Our

Stories

Eerste Safari Den Winter Bergfietstoer

e66 iwaDie eerste Safari Den Winter Bergfietstoer sal plaasvind van 14 – 17 Mei 2015. Hierdie fietstoer oor 360km, 'n eerste vir bergfietsry in Namibië in samewerking met Safari Den, beloof om 'n ander dimensie tot plaaslike bergfietsry te bied. Die doel van die toer met Safari Den as borg, is om die besigheid se motto "Get out there and have fun" uit te leef.

Johan Fourie, bekende fietsryer en driekampatleet in Namibië en organiseerder van die toer, beklemtoon dat die toer beplan word as 'n familiegeleentheid wat in enige formaat aangepak kan word, meer gemik op pret as op kompetisie.

Die balans tussen lang afstande en genoeg geleenthede om te rus; uitdagende ente en maklike gedeeltes, maak dit 'n geleentheid vir beginner sowel as ervare bergfietsryers. Die pret en die prag van die omgewing beloof 'n gelyke beloning te wees vir almal, ryers en ondersteuners.

Die toer geskied oor 'n afstand van ongeveer 360km oor drie dae op distrikspaaie, met 'n opsionele 100km rit op die vierde dag. Die roete sal fietsryers neem van Windhoek na Omaruru en oor Erindi Lodge terug na Okahandja. Op Donderdag, 14 Mei sal ryers by die Matchless-myn op die Daan Viljoen-pad begin en die dag spandeer op die roete van ± 120 km tot by Wilhelmstal, waar die ondersteuningsvoertuie ryers sal optel en na Omaruru ry. Die groep sal oornag by Kashana Lodge in Omaruru, van waar 'n sirkelroete gery sal word op Vrydag, 15 Mei, na die Vingerklip Lodge en na middagete terug na Kashana Lodge. Dit sal die langste roete wees oor 'n afstand van 160km.

Op Saterdag, 16 Mei pak ryers 'n rit van 80 km aan tot by Camp Elephant by die Erindi Privaat Wildreservaat, waar die groep dan oornag.

Na drie lang dae in die saal, het ryers die opsie om op Sondag, 17 Mei, nog ±100km te ry vanaf Erindi se Oostelike hek op 'n distrikspad na Okahandja, of per motor terug na Windhoek. Waterpunte sal op die pad aangebied word en ondersteuningsvoertuie mag fietsryers vergesel op die roete.